Beskikbare kursusse

Baie welkom by die aanlyn oriëntering waar jy ʼn nuwe blik op Orania sal kry.


Opening

Ek open graag die oriëntering uit Sagaria 8:23:

So sê die Here die Almagtige: Daardie tyd sal uit al die nasies tien man een Judeër aan die klere gryp en sê: “Ons wil met julle saamgaan, want ons het gehoor God is by julle.”


Hierdie is ʼn kragtige vers wat vir ons sê wat ons belangrikste opdrag in Orania is: Ons moet so leef dat mense by ons sal wil aansluit, “want ons is gehoor God is by julle.” Dit is dus ons eerste verantwoordelikheid, om God te eer en te leef soos wat Hy dit van ons verwag. Om onsself minder te maak en Hom meer. Sodat diegene wat Hom nog nie ken nie, deur ons daaglikse doen en late daarvan bewus sal word dat dit in Orania anders is, dat ons God intiem ken en dat hulle daardeur na Hom gelei sal word.


My gebed is dat elkeen van julle die ware Vrede sal vind en gelukkig sal wees in Orania, maar veral sal verstaan dat, al werk ons hier in Orania daagliks baie hard aan vryheid vir Afrikaners, dat ons tog die groter doel daagliks sal nastreef.


Wat is oriëntering?

Baie welkom by die oriëntering! Die kursus gee ʼn oorsig oor die Orania-gedagte, dit begin met die geskiedenis en wat die sake was wat gelei het na die ontstaan van Orania. Dan is daar lesings oor die grondbeginsels waarop Orania gebou is, ʼn aantal lesings oor die praktiese werking van Orania, instellings van Orania en Orania-kultuur wat insluit Orania-vakansiedae, ons vlag, museums, ons taal en so meer. Dit is dus ʼn baie omvattende kursus.


Put die meeste uit die oriëntering

Die kursus het baie meer waarde as daar goeie kommunikasie is, laat weet gerus indien daar enige onduidelikhede is, of as daar vrae of kommentaar is. Ons gesels graag saam!

Vir vrae of kommentaar oor die inhoud van die kursus, stuur gerus ʼn e-pos aan lida@orania.co.za of skakel 053 2070 064 om met my te praat.


In geval van tegniese navrae, tree in verbinding met Guilaume van Rensburg by ggbk@orania.co.za of skakel hom by 053 2070 064.


Wie is Orania?

Ons hoor dikwels dat mense sê: “Orania moet … “ en dan is daar ʼn reeks voorstelle van dinge wat Orania moet doen. Ek beantwoord dit graag met ʼn teenvraag: Wie is Orania?


Wie is die Orania wat die oplossing is vir Afrikaners? Wat ʼn universiteit moet bou, moet sorg vir behuising vir armes, wat moet sorg dat hier genoeg ontspanning is, wat moet sorg vir veiligheid en genoeg werk met goeie salarisse. Wie is daardie Orania?


Dit is goed om vooraf te verstaan dat Orania geen ondersteuning van die staat kry nie, om te weet dat alle ander dorpe en stede in Suid-Afrika toelae ontvang om infrastruktuur te skep en na armes om te sien. Orania kry egter geen ondersteuning nie. Wat hier in Orania gedoen word, kom uit die sakke van Afrikaners. Ons het self verantwoordelikheid aanvaar vir ons toekoms en ons doen wat ons kan met dit wat ons self beskikbaar kan stel.


Wie is Orania dus? Orania is elke Afrikaner wat kies om in Orania te woon en saam aan die oplossing te werk sodat ons ʼn veilige heenkome vir Afrikaners kan skep. Hier doen ons dit self in afhanklikheid van ons Skepper.


Wat bring jy?

Orania is ʼn leefwyse. Orania is ʼn doeldorp. Orania is op pad êrens heen. ʼn Mens kan Orania hoor groei: bouers bou, mense beweeg, kinders speel, studente leer, erwe word gediens, huise word gebou, besighede kom tot stand, mediese dienste brei uit. Almal is besig met hulle unieke taak in Orania.


Afrikaners het ʼn plek nodig, ʼn tuiste, ʼn veilige woonplek en dit is ons taak om daardie plek te bou. Ek vertrou dat die oriëntering jou sal laat verstaan wat Orania is, maar veral waar jy sal inpas om jou unieke bydrae te lewer en so getrou te wees aan jou roeping.


Geniet die oriëntering!


Vriendelik die uwe

Lida Strydom

Hoof: Gemeenskapsdienste